Wat is die simptome van IBD?

Die simptome van inflammatoriese dermkanaalsiekte is uiteenlopend en die siekte kan redelik skielik toeslaan, of stadig met verloop van tyd ontwikkel.

Diarree

Diarree by IBD verskil van die diarree wat met algemene toestande soos gastroënteritis (virale of bakteriële infeksie) of voedselvergiftiging, wat die meeste mense al een of ander tyd ervaar het, gepaardgaan. Dit verskil ook van die diarree saam met prikkelbare dermsindroom. Die diarree by IBD hou vir weke, of selfs maande op ’n slag aan. Dit kan beter of erger word, met goeie en slegte dae wat mekaar afwissel. Daarby kan dit so skielik en hewig toeslaan dat dit soms onmoontlik is om ’n toilet betyds te bereik (inkontinensie). Die diarree-uitwerpsels kan bloed, mukus of etter bevat. As ’n mens gereeld wakker word as gevolg van diarree kan dit nog ’n teken van IBD wees.

Koors

’n Laegraadse koors kan ’n teken van IBD wees.

Moegheid en uitputting

Die oorsaak kan die siekte self wees, anemie (bloedarmoede) of ’n gebrek aan slaap as jou slaap gereeld deur pyn of diarree onderbreek word.

Krampe en steekpyne in die lae buik (abdomen)

Dit kan baie hewig wees en dikwels ná etes voorkom, of voor ’n stoelgang.

Verlies aan eetlus en gewig

Gewigsverlies kan die gevolg wees van voedingstowwe wat weens inflammasie in die dermkanaal nie behoorlik verteer en deur die liggaam opgeneem kan word nie.

Sommige mense met IBD, veral Crohn se siekte, kan komplikasies ontwikkel, waaronder:

Vernouings (strikture)

Dit kom voor waar voortgesette inflammasie en dan herstel van die dermkanaal letselweefsel kan vorm. Dit kan veroorsaak dat ’n gedeelte van die dermkanaal nouer as die res is. Hierdie vernouing, bekend as ’n striktuur, kan ’n blokkasie in die ingewande of kolon veroorsaak.

Fistels

Dit is meer algemeen by mense met Crohn se siekte. ’n Fistel is ’n abnormale kanaal of deurgang veroorsaak wanneer Crohn se siekte deur die voering van die ingewande of kolon “boor”. Fistels kom tipies by Crohn se siekte rondom die anus voor (peri-anale fistel) en veroorsaak ’n pynlike swelsel of abses waaruit slym, etter of selfs stoelgang kan kom. Fistels kan ’n uitgang op die vel vind (enterokutane fistel) of een gedeelte van die ingewande met ’n ander gedeelte verbind (interne fistel).

IBD kan soms ander dele van die liggaam aantas. Dit word buite-ingewandsmanifestering van IBD genoem en die mees algemene soorte sluit die volgende in:

Pynlike gewrigte

Inflammasie van die gewrigte, dikwels bekend as artritis, beteken dat vloeistof in die ruimtes rondom gewrigte in die arms en bene ophoop, met pynlike swelsels die gevolg. Dit tas gewoonlik die groter gewrigte van die arms en bene, insluitend elmboë, handgewrigte, knieë en enkels aan.

Pyn in die laer rug

IBD kan met inflammasie van die laer rug en bekken, genoem ankiloserende spondilitis, saamgaan. Hierdie toestand veroorsaak pyn en styfheid in die laer rug.

Inflammasie van die oog

Die mees algemene oogtoestand wat by mense met IBD voorkom, is episkleritis, wat die voering van weefsel wat die sklera bedek, aantas en laat ontsteek. Die sklera is die wit buitenste laag van die oog, wat dan rooi en seer word.

Velprobleme

’n Aantal velprobleme word met IBD geassosieer, soos pynlike rooi swelsels op die laer dele van die bene (eriteem nodosum), asook pynlike velsere (pioderma gangrensum). Dit is die mees algemene velaandoenings wat met IBD gepaard kan gaan.