Wat is IBD?

Inflammatoriese dermkanaalsiekte, of IBD, is ’n chroniese (langtermyn), terugkerende en herhalende inflammatoriese ongesteldheid van die spysverteringstelsel (waarna ook verwys kan word as die derm-, maag-en-derm- of spysverteringskanaal, of bloot die ingewande).

Dit word veroorsaak deur ’n genetiese gevoeligheid, allerlei soorte ingewandsbakterieë aanwesig in die dermkanaal en wanfunksionering van die ingewande se immuunstelsel in kombinasie met ’n aantal bydraende omgewingsfaktore. IBD het twee herkenbare en soms oorvleuelende vorms, naamlik Crohn se siekte en ulseratiewe kolitis (sweervormende dikdermontsteking). IBD kan by mense van enige ouderdom voorkom, maar die neiging is dat dit vir die eerste keer by jong volwassenes kop uitsteek. IBD neem wêreldwyd toe en dit sluit Suid-Afrika in.