Wat is nodig om IBD te diagnoseer?

Indien jou dokter vermoed dat jy ulseratiewe kolitis of Crohn se siekte het, sal jy waarskynlik ’n paar toetse en ondersoeke moet ondergaan om die diagnose te bevestig. Daar is geen alleenstaande toets om ’n IBD-diagnose te bevestig nie. Jou dokter sal ’n kombinasie van toetse daarvoor gebruik.

BLOED- EN STOELGANGTOETSE

Bloedtoetse kan wys of daar inflammasie (verhoogde CRP [C-reaktiewe proteïen] of ESR [eritrosiet-sedimentasietempo]) êrens in jou liggaam voorkom en of jy anemies is (lae hemoglobien, of bloedarmoede). Albei hierdie toestande is baie algemeen by pasiënte met IBD. Hierdie toetse kan ook wys of organe soos die lewer en niere reg funksioneer en of jy ’n tekort aan enige minerale of vitamiene het.

Jou stoelgang kan ook getoets word vir tekens van bloeding of inflammasie (kalprotektien), en om vas te stel of jou diarree deur ’n ontsteking veroorsaak word.

ENDOSKOPIE

Endoskopie is die algemene naam vir ’n soort toets wat ’n spesialis (endoskopis) in staat stel om met behulp van ’n endoskoop na die binnekant van die spysverteringstelsel te kyk. As IBD vermoed word, is dit raadsaam om die pasiënt na ’n mediese of chirurgiese gastroënteroloog vir endoskopietoetse te verwys.

’n Endoskopie is waar ’n dokter of spesialis-endoskopis ’n endoskoop – ’n lang dun, gewoonlik buigbare buis met ’n kamera aan sy punt – gebruik om jou spysverteringstelsel te ondersoek. Daar is verskeie soorte endoskopies wat verskillende name genoem kan word afhangende van die gedeelte van die dermkanaal wat ondersoek word.

’n Boonste GI-endoskopie of gastroskopie word gebruik om na die boonste gedeelte van jou spysverteringskanaal, soos die slukderm en maag, te kyk. Dit word deur die mond ingeskuif.

’n Kolonoskopie of sigmoïdoskopie word gebruik om na die kolon te kyk. ’n Sigmoïdoskopie (’n kort endoskoop), of ’n kolonoskoop (’n langer en meer buigbare endoskoop) word deur die anus (terugwaarts) ingeskuif om die rektum en kolon te ondersoek.

Endoskopieë behoort nie pynlik te wees nie, dalk net ongemaklik. Jy kan dus ’n kalmeermiddel gegee word om jou te help ontspan. Biopsies (klein monsters van weefsel) word dikwels gedurende ’n endoskopie geneem. Dit kan onder ’n mikroskoop ondersoek word om die diagnose van IBD te help bevestig.

’n Kapsule-endoskopie is ’n spesiale soort endoskopie waar jy ’n klein kameratjie (omtrent so groot soos ’n klein druiwekorrel) insluk. Dit neem dan foto’s van die binnekant van jou ingewande soos wat dit deur die spysverteringskanaal beweeg. Hierdie foto’s word na ’n data-opnemer gestuur wat om jou middellyf gedra word. Die kapsule-kameratjie is weggooibaar en word op ’n natuurlike manier deur stoelgang uitgewerp. Nie alle sentrums het ’n kapsule-endoskoop beskikbaar nie en die gebruik daarvan is ook nie vir almal geskik nie.

ABDOMINALE X-STRALE EN CT-SKANDERINGS

Baie verskillende soorte X-strale word in IBD-ondersoeke gebruik. Gewone X-strale van die buik kan in noodgevalle sowel as vir die aanvanklike diagnosering van mense met IBD gebruik word.

CT-skanderings gebruik ’n hele reeks van X-straalbeelde om ’n gedetailleerde beeld van die liggaam op te bou. Die skandeerder lyk soos ’n ringbuis (“doughnut”) en X-strale word uit verskillende hoeke geneem. Dit word dan saamgevoeg om tweedimensionele deursnitbeelde van die liggaam te skep.

Die spysverteringskanaal word nie altyd duidelik gewys op X-straalfoto’s nie. Jy kan dus barium neem om te help dat ’n duideliker beeld verkry word. Dit is ’n skadelose wit stof wat nie in die liggaam opgeneem word nie, maar ’n tydelike bedekking aan die binnekant van die dermkanaal vorm. X-strale kan nie deur die barium dring nie en gee dus ’n duideliker buitelyn van die dermkanaal in X-straalbeelde. Die barium kan met ’n drankie geneem word om probleme met die werking van die maag en dunderm uit te wys, of as ’n enema om inflammasie in die kolon te ondersoek.

ABDOMINALE ULTRAKLANK

Ultraklankskandeerders gebruik klankgolwe met baie hoë frekwensie om ’n beeld te skep. ’n Sensor word met die hand oor die veloppervlakte rondgeskuif en dit stuur klankgolfseine uit wat as ’n eggo vanaf die interne organe terugkaats. Die skandeerder tel dan die eggo’s op en omskep dit in ’n beeld. 

Ultraklankskanderings kan gebruik word om galstene en nierstene op te spoor. Dit werk ook goed om die ophoping van vloeistowwe en verdikkings of ontsteekte dele van die dermkanaal uit te wys. Ultraklankskanderings kan ook absesse en fistels (abnormale kanale wat verskillende dele van die ingewande verbind) toon.

MRI-SKANDERINGS (MAGNETIESE RESONANSBEELDING)

MRI-skanderings word gebruik om deursnitbeelde van die liggaam te verkry. Dit word toenemend gebruik vir IBD-ondersoeke, veral by kinders, omdat dit die gebruik van X-strale uitskakel. In plaas van X-strale gebruik die MRI-tegnologie sterk magnetiese velde en radiogolwe om beelde van die binnekant van die liggaam te skep.

Die MRI-skandeerder lyk soos ’n lang buis of tonnel, en jy sal gevra word om op ’n beweegbare tafel te gaan lê, wat dan stadig tot binne-in hierdie tonnel geskuif word. MRI-skanderings is doeltreffend om sagte weefsel soos spiere en die ingewande, sowel as organe soos die lewer, te ondersoek. Dit is omdat dit veral doeltreffend is met die opsporing van fistels (abnormale kanale wat die verskillende dele van die dermkanaal verbind), en absesse. Dit kan ook onderskei tussen aktiewe inflammasie en letsels.